DIE "EK WEET NIE" VAN AFTREDE
EK WEET NIE ...
Ek is nou in die derde maand van my aftrede. Ek hoor gereeld dat die eerste ses maande die “wittebroodfase” is—’n tyd waarin jy hierdie nuwe hoofstuk en seisoen met oorgawe geniet. Daar is skielik hope vrye tyd, minder verantwoordelikhede, en die geleentheid om net te wees.
Op hierdie stadium beskou ek myself as bevoorreg, want ek reis lig. Tog bring hierdie reis ook groot bekommernisse. My finansies laat my nie toe om ’n plek van my eie te huur nie. Ek maak staat op ander vir vervoer, aangesien ek al meer as twee jaar nie ’n motor besit nie. Ek is werkloos.
Die toekoms lyk soms donker. Wat nou? Waarheen nou?
As ek my rasionele denke toelaat om oor te neem, sien ek net die slegste moontlike uitkomste. Ek my moet regmaak vir die ergste—dat ek dalk haweloos, hulpeloos en reddeloos kan eindig.
Dit is my waarheid op hierdie oomblik—hoe ek voel en dink.
Ek erken: ek is bang, moedeloos, magteloos en bekommerd.
Hierdie emosies trek my af. Dit maak my depressief, laat my terugtrek en myself afsonder. Ek voel minderwaardig, skaam en soms selfs skuldig. Ek begin glo dat ek ’n las vir ander is, dat ek nie het wat ander het nie.
Wanneer emosies—wat eintlik waarskuwingstekens is—die oorhand kry, begin jy glo dit ís wie jy is.
Jy is depressief.
Jy is minderwaardig.
Jy is ’n las.
En dan kom die leuens: dat niemand meer by jou wil wees nie, dat niemand meer omgee of jou liefhet nie.
Maar is dit werklik wie ek is?
Nee.
Ek is Sy kind—duur gekoop met Sy bloed. Ek is vrygespreek van sonde. Ek is ’n Koningskind, ’n dogter van die Allerhoogste Vader. Ek is uniek geskape. Ek is waardig. Ek is geliefd.
En met hierdie waarheid in my hart, staan ek voor die spieël en kies om met ander oë na myself te kyk.
Ek kies om Hom toe te laat om my denke daagliks te vernuwe en my hart te deursoek. Ek vra vir geestelike wysheid en insig, want ek weet Hy nooi my elke dag om saam met Hom te stap.
Ek kies om Hom toe te laat om my God te wees—sodat ek werklik Sy kind kan wees. Ek is op ’n plek waar ek net voor Hom kan sit en eerlik sê:
Here, ek weet nie.
Ek weet nie waarheen van hier af nie.
Ek weet nie hoekom dit gebeur het nie.
Ek weet nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie.
Maar Here… U weet.
En so staan ek op en los my “ek weet nie” by Hom—met die stille vertroue dat Hy my weer, soos in die verlede, sal verras.
💟Dalene
As jy gemaklik voel, deel gerus in die kommentaar:
Wat is jou “ek weet nie” op hierdie stadium van jou lewe?
As jy gemaklik voel, deel gerus in die kommentaar:
Wat is jou “ek weet nie” op hierdie stadium van jou lewe?

Opmerkings
Plaas 'n opmerking