"I don't want to retire FROM something. I want to retire TO something."
Omhels "DIE KRAG VAN NOU" tydens jou aftrede.
Ek het so pas afgetree en besluit om my meubels te stoor en vir ses maande net eers die kat uit die boom te kyk voordat ek besluit waar ek myself wil vestig en wat ek nou eintlik met my lewe wil maak. Dit is nogal angswekkend - veral as jy nie die nodige finansies het om sommer net leeg te lê nie.
Ek is nou in die vyfde week van my sabbatsreis. Die verlies aan my professionele identiteit het my soos 'n sneltrein getref. Vier dekades lank het ek 'n titel gehad, verantwoordelikhede, my eie huishouding, studies en leerders wat op my staatgemaak het - en toe skielik was ek net... iemand.
Het jy al gevoel dat jy in jou nuutgevonde vryheid verdrink? Ek sê vir my kinders dat dit 'n vryheid is wat my bang maak - geen verantwoordelikhede meer nie. Die kinders is groot, ek is enkellopend, ek het nie meer 'n huishouding om na om te sien nie en ook nie meer 'n werk nie.
Gelukkig hou ek baie van lees en dit is waar ek die aanhaling waarmee ek begin het raakgelees het.
My motto in die lewe is dat 'n mens nooit te oud is om iets nuut te leer nie. Aanvanklik het ek net gerus. Die mooi omgewing hier by my Sus en haar man op hul plaas naby Chintsa-Wes aan die Oos-Kaapse kus, het baie gehelp. Stadig maar seker het ek weer begin lewe kry. Ek het ingeskryf vir 'n kort kursus in Content Creating, Content Marketing and Blogging, want ek wil skryf. Ek het lang ente langs die see gaan stap en soveel inspirasie gekry - eers net met die maak van kort video'tjies wat ek op Facebook en Instagram geplaas het, maar deesdae borrel dit in my...
En so met die stappery het 'n groot droom van my weer gestalte begin kry. Ek stap mos nou, hoekom oefen ek dan nie sommer om 'n camino te gaan stap nie? Binne 'n week nadat ek navrae gedoen het, het ek plek in 'n groep gekry wat die Ligtoring-roete gaan stap. Die 28ste Maart begin my droom wanneer ek by Mosselbaai begin stap en (as alles goed gaan) behoort ek die 3 April klaar te maak op Stilbaai. Ek verjaar ook dieselfde dag en voltooi die sirkel van my 66ste tot my 67ste verjaarsdag op 'n hoogtepunt.
Tydens hierdie reis van "ek weet nie" het ek God se goedheid en guns in oorvloed ervaar. Ek het het net weer besef dat dit die heel beste is om eers die Koninkryk van God te soek en dan te sien hoe al die ander dinge bygevoeg word. Wanneer jy gestroop word van al die wêreldse dinge (geld, aansien, prestasie, besittings ens.) en dit net Hy en jy is, is dit waar daai spreekwoordelike tekkie die teer tref. Dan besef jy dat jy tot alles in staat is omdat Hy jou die krag gee. Ja, Hy gee jou nie 'n gees van vreesagtigheid nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.
Mag jy in die komende week ook daardie krag ervaar om nie "from something" te "retire" nie, maar om jou "to something" te ontdek.

Opmerkings
Plaas 'n opmerking