Vrees jy die omhelsing van “die nou” in aftrede?
Vrees jy die omhelsing van “die nou” in aftrede?
Aftrede klink vir baie mense soos ’n droom: meer tyd, minder druk en uiteindelik rus. Tog bring hierdie nuwe fase vir baie mense ook iets anders – ’n vreemde stilte en soms selfs vrees.
In my vorige artikel het ek geskryf oor hoe ons “die nou” van aftrede kan omhels. Vandag wil ek fokus op iets waaroor ons minder praat: die vrese wat ons dalk daarvan weerhou om hierdie nuwe fase van ons lewe met oop arms te verwelkom.
Wie van ons het nie al gehoor hoe mense sê: “Hy of sy probeer nou weer jonk bly” wanneer iemand ná aftrede besluit om iets nuuts aan te pak nie? Jy begin skilder- of pottebakkerklasse bywoon, jy leer ’n nuwe sport, of jy besluit om tegnologie beter te verstaan.
Maar as jy leer as ’n lewenslange proses beskou, doen jy dit nie om jonk te bly nie. Jy doen iets baie meer fundamenteel: jy erken dat jy nog ’n mens in wording is – iemand met wie die Here nog nie klaar is nie. Jy gee jouself toestemming om te groei en te word wie Hy jou geskape het om te wees.
Vir baie van ons is ons identiteit oor meer as veertig jaar gevorm deur ons werk. Ons het elke dag betyds opgedaag, probleme opgelos, sperdatums gehaal en probeer om al die balle in die lug te hou om ’n bestaan te maak. Ons werk het uiteindelik ’n groot deel van ons identiteit geword.
Wanneer aftrede kom, verloor baie mense daardie identiteit. En soos met enige verlies – of dit nou ’n geliefde, ’n werk of selfs ’n deel van jouself is – begin daar ’n rouproses. Depressie is dikwels een van die fases van hierdie proses. Dit kom nie altyd dramaties nie. Dit kom nie noodwendig soos “ek kan nie uit die bed opstaan” nie. Dit bekruip jou stadig. Skielik voel alles sinloos. Die dae begin almal dieselfde lyk.
Dit is dikwels op hierdie punt waar mense as’t ware vries. Jy hoor dieselfde stories oor en oor. Dieselfde opinies word herhaal. Elke dag volg dieselfde roetine. Julle gaan selfs elke jaar op dieselfde tyd na dieselfde vakansieplek. Mense sê dan maklik: “Dit is nou maar hoe ek is.” Of: “Jy kan nie ’n ou hond nuwe truuks leer nie.” Wanneer ons so praat, verklaar ons eintlik dat ons persoonlike ontwikkeling klaar is – dat ons nou die finale weergawe van onsself geword het.
Maar hoekom verras jy nie jouself nie? Sluit die onbewoonde kamers van jou persoonlikheid oop en ontdek wie jy nog kan word. Of is jy dalk bang vir mislukking?
Van kleins af is baie van ons gevra: “Wat wil jy eendag word?” Hierdie vraag laat ons glo dat ons eendag ’n punt gaan bereik waar ons “arriveer” – waar ons persoonlikheid en identiteit finaal gevorm is. Jy studeer verder, kry ’n graad, begin werk en word uiteindelik die dokter, ingenieur, onderwyser of prokureur. En ons dink: Nou het ek gearriveer. Maar hier maak ons dikwels ’n fout. Die waarheid is dat ’n mens nooit werklik arriveer nie, want leer en groei is ’n lewenslange proses. Jy kan op 60, 70 of selfs 80 nog nuwe vaardighede aanleer. Wanneer jy ’n skilderklas neem en jou eerste skildery voltooi – selfs al is dit nie perfek nie – of wanneer jy jou eerste gesprek in Xhosa voer, is dit nie ’n oorwinning oor ouderdom nie. Dit is ’n oorwinning oor die storie wat jy gedink het reeds klaar geskryf is.
Ons moet aanhou om nuwe hoofstukke by ons stories te voeg, eerder as om net die reeds geskryfde hoofstukke oor en oor te lees.
Ek wil jou daarom aanmoedig om op ’n ontdekkingsreis te gaan. Ontdek weer wie jy geskape is om te wees. Ontdek jou passie. Wees dapper genoeg om te groei as mens. Dit is ongelukkig iets wat niemand anders vir jou kan doen nie. Jy moet self vir jouself toestemming gee.
My wens vir jou is dat jy altyd ’n leerbare gees sal hê. Dat jy nooit sal ophou groei nie. En dat jy in hierdie proses ook nader aan jou Skepper sal groei en in Sy volheid sal leef. Mag Hy jou beker tot oorlopens toe volmaak en jou seën met die keur van Sy seëninge.
Want aftrede is nie die laaste hoofstuk van jou storie nie – dit is bloot die begin van ’n nuwe een wat nog geskryf moet word.

Opmerkings
Plaas 'n opmerking