Is jou drome vir aftrede groot genoeg

 ’n Vriendin het onlangs gesê dat jy een keer in jou lewe ’n “bang” moet doen. Die afgelope tyd moes ek twee “bange” doen – alleen op ’n vliegtuig klim (ja, lag julle maar) en 106 km ver stap. Dit was alles deel van my droom om ’n camino te stap.

Langs my op die vliegtuig het ’n jong swartman gesit wat die eerste keer in sy lewe op ’n vliegtuig was. Saam het ons ons “bang” trotseer. Later het ons lekker gesels, en met die afklimslag het hy my gehelp om my sak uit die sluitkas te haal, teruggestaan en my eerste laat uitstap, en my beleefd gegroet voordat hy tussen die skares verdwyn het. Sy ma, wat verlede jaar oorlede is en vir wie hy gesorg het – nie omdat hy volgens sy kultuur en tradisies verplig was nie, maar omdat hy haar liefgehad het – kan met reg trots wees. Mag jy veilig reis op jou lewenspad vorentoe, Zayne.

My tweede “bang” was die afstand wat ek, met min voorbereiding, moes stap. Saam met ’n deurwinterde stapper, die 74-jarige Feiza, en my skooldogter het ek ses wonderlike dae beleef. Daar was heelwat uitdagings, maar ons het soveel mense ontmoet wat ons dae opgekikker het.

Een van hulle was Marie. Op Borrelfontein het sy vir my die lekkerste koppie rooibostee gemaak en ons alles van die omgewing en haar mense vertel. Ten spyte van haar omstandighede leef sy met tevredenheid, blymoedigheid, vriendelikheid en medemenslikheid wat jou diep raak en jou stil maak voor die Here. Dankie vir die lewenslesse wat ek by jou kon leer, Marie. Ek salueer jou as vrou.

Moet nooit ophou droom nie, en maak jou drome groot genoeg om ook jou “bang” te oorwin. Kom uit jou “comfort zone”, al is dit nie maklik nie, want dit is dikwels juis daar waar die Here ons vorm en ware groei plaasvind.

Groete tot volgende week.

Dalene




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

"I don't want to retire FROM something. I want to retire TO something."

Vrees jy die omhelsing van “die nou” in aftrede?

DIE "EK WEET NIE" VAN AFTREDE